Landbouradio - Schoeman & Vennote

Go to content

Main menu:

Praatjie oor Damme

Published by Hennie Schoeman in Praatjies · 26/4/2017 18:22:00
 
DAMME: 26 April 2017
 
1.          Wetlike aspekte wanneer ek ‘n nuwe dam wil bou:
 
1.1.    ‘n Dam is ingevolge die Nasionale Waterwet ‘n watergebruik (die opgaar van water). Dit is dus aan die bepalings van die Waterwet onderhewig en mag nie sonder die nodige magtiging gebou word nie.
 
1.2.    Die eerste moontlike magtiging lê in die sogenaamde Algemene Vergunnings. Die nuutste Algemene Vergunning is in die Staatskoerant van 2 September 2016 gepubliseer. Dit geld vir die volgende 20 jaar, d.w.s tot September 2036.
 
1.2.1.       Die Algemene Vergunning is gebiedsgebonde en geld slegs vir damme wat buite die bedding van ‘n waterstroom of rivier geleë is. Sulke damme moet ook ‘n uitlaat hê waarmee die dam binne 30 dae totaal leeggemaak kan word.
 
1.2.2.       Die maksimum volume wat in die Vrystaat-gebied deur die Algemene Vergunning toegelaat word, is 2 000 kubieke meter. Dit is maar bra min water (minder as helfte van ‘n normale leidam), maar laat redelike groot ronde damme, soos sinkdamme, sementdamme en gronddamme toe (met deursnitte van tussen 35 meter en 40 meter vir damme met ‘n diepte van 2 meter en 1.5 meter onderskeidelik). Daar is geen onderskeid tussen damme wat met verskillende materiale gebou word nie.
 
1.3.    Die tweede moontlikheid as ek ‘n dam wil bou wat groter as die Algemene Vergunning is, of ‘n dam wat binne ‘n waterstroom geleë is wil bou, is om ‘n lisensie-aansoek daarvoor te doen. Hierdie is ‘n baie meer omvattende proses en ek beveel aan dat u die naaste kantoor van die Departement van Water en Sanitasie nader om bystand met die lisensie-aansoek.
 
1.4.    Sou die totale opgaarvermoë van u dam groter as 50 000 kubieke meter wees, en die hoogte van die wal meer as 5 meter wees, is die dam ook onderhewig aan die regulasies van Damveiligheid. Afhangende van die veiligheidsrisiko van die dam, word dit deur die Departement geklassifiseer as een van drie tipes risiko. Elke tipe risiko het sy eie vereistes in verband met ontwerpvereistes en inspeksies.  Weereens beveel ek aan dat u met die Departement sal skakel as daar enige moontlikheid van ‘n oorskryding van die perke is.
 
1.5.    Om seker te maak dat u aan alle wetlike vereistes voldoen, moet u asseblief ook in ag neem dat die bou van ‘n dam, veral binne ‘n waterstroom, bes moontlik sekere gelyste aktiwiteite onder die Omgewingswetgewing tot gevolg kan hê. Die Departement van Water en Sanitasie sal u ook hieroor kan adviseer.
 
2.          Mag ek ‘n dam gebruik vir besproeiing?
 
2.1.     Ja, jy mag ‘n dam gebruik om uit te besproei, MAAR, onthou dat besproeiing (die neem van water) ‘n afsonderlike watergebruik is! Daarvoor moet daar ook ‘n magtiging gekry word. Soos in die geval van opgaar, geld hier ook ‘n algemene magtiging. Die algemene magtiging laat die besproeiing van 2 000 kubieke meter water per jaar toe.
 
2.2.     As jy reeds bestaande wettige besproeiing het, mag jy die dam gebruik om daardie volume water wat reeds as bestaande wettige gebruik verklaar is, uit die dam te besproei.
 
2.3.     As dit ‘n nuwe gebruik vir besproeiing is en die volume groter as 2 000 kubieke meter per jaar is, moet ‘n lisensie-aansoek daarvoor gedoen word by die Departement.
 
3.          Mag ek ‘n dam wat gebreek het, herstel?
 
3.1.     Ja, ‘n gebreekte dam mag herstel word. Die voorwaarde is egter dat die kapasiteit van die dam nie vergroot mag word nie. Die voetspoor van die konstruksiewerk mag ook nie die oorspronklike voetspoor oorskry nie. Sou dit nodig wees om die voetspoor te verander (byvoorbeeld die wal wyer te maak of om nuwe flankmure te bou), is toestemming van Omgewingsake normaalweg nodig.
 
4.          Hoe groot moet ek ‘n dam bou?
 
4.1.     Hierdie is ‘n baie belangrike vraag! Wat help dit ‘n mens jy bou ‘n dam, maar die afloop na daardie dam is nie voldoende om genoeg water vir jou besproeiing te lewer nie.
 
4.2.     Die afloop na ‘n dam hang af van die grootte van die opvanggebied wat tot by die dam dreineer. Die hoeveelheid water wat afloop, hang ook baie nou saam met die reënval oor die opvanggebied.
 
4.3.     As ‘n breë riglyn, kan aanvaar word dat ongeveer 25 ha opvanggebied nodig is vir elke hektaar wat jy uit die dam wil besproei. Sou ‘n mens dus sowat 8 ha uit die dam wil besproei, moet die dam ‘n opvanggebied van ongeveer 200 ha hê.
 
4.4.     Die kapasiteit van die dam moet so ongeveer 25% groter wees as die afloop uit die opvanggebied. In ons voorbeeld van 8 ha besproeiing en ‘n 200 ha opvanggebied, is die besproeiing wat nodig is, ongeveer 32 000 kubieke meter per jaar. Hiervoor moet die dam dus ongeveer 40 000 kubieke meter water kan hou.
 
5.          Ten slotte
 
5.1.     Dit is baie belangrik dat, wanneer ‘n boer ‘n dam wil bou, behoorlike magtiging daarvoor gekry moet word.
 
5.2.     Die eerste wegspring is altyd die Departement van Water en Sanitasie. Die Departement is goed gerat om behoorlike leiding in hierdie verband te gee. Vir kontakinligting, kyk op die webwerf by: www.dwa.gov.za/contactRegions.aspx.
 
5.3.     In sommige gevalle mag dit nodig wees dat u van kundige advies en leiding gebruik moet maak. ‘n Dam is ‘n duur ding. Onthou dat die fooie wat u aan ‘n kundige betaal, die goedkoopste deel van die koste van die dam is. Sonder kundige insette mag u dalk eindig met ‘n ondoeltreffende dam wat boonop onwettig mag wees!
 
5.4.     Skakel my gerus as u enige verdere navrae het by hennie@landuse.co.za of gaan kyk na ons webwerf by www.landuse.co.za
 
 
Groetnis tot ‘n volgende keer!
 
 
 
 
Hennie Schoeman Pr Ing



WATERBEPERKINGS IN DIE VRYSTAAT 2016

Published by Hennie Schoeman in Praatjies · 10/10/2016 20:53:00
Dagsê uit die dorre Noordwes aan al die watergebruikers, veral ons besproeiingsboere, in die Vrystaat:
Die afgelope jaar is daar verskeie waterbeperkings by wyse van proklamasies in die Staatskoerant afgekondig. Ek som hierdie beperkings kortliks op:



Die beperkings is wettig ingestel en bly van krag tot verdere kennisgewing.

Ek hoef nie te verduidelik waarom die beperkings ingestel is nie. U ervaar dit daagliks – die versengende droogte wat vir die afgelope twee jaar en langer deel van ons daaglikse oorlewingstryd is.

Waar dit aanvanklik ‘n landbou-droogte was wat seisoenale oeste geraak het, het dit nou in ‘n ware hidrologiese droogte ontaard. ‘n Hidrologiese droogte beteken onder andere dat dit meer as een hidrologiese jaar (Oktober tot September) se bo-normale reënval gaan verg om damme weer voller te kry.

Dit is belangrik dat alle watergebruikers moet besef dat hierdie beperkings nie maar net reëls is wat die Regering nou ingestel het om ons lewens te versuur nie. Ons hele land is in ‘n oorlewingstryd teen die groot ramp van ‘n uiterste droogte gewikkel.

As ons nou die reëls oortree, is dit nie water wat ons van die Regering gaps nie, maar is dit water waarvan ons ons bure ontneem. As ons nie elkeen streng by die beperkings hou nie, gaan die damme wat nog nie leeg is nie, baie gouer leeg word en dan sit ons almal sonder water.
Moet asseblief nie bekommer oor hoe om nie uitgevang te word as u te veel water gebruik nie. Dit gaan nie oor uitvang nie – dit gaan oor ons almal se oorlewing.

Hoe moet ek beplan vir die seisoen wat voorlê?
  • Kort u aanplantingsarea met minstens die beperking in u gebied in. Dus, as die beperking 30% is, beplan om net 70% van u normale area aan te plant.
  • Hou in gedagte dat u buurman dalk permanente gewasse soos boorde besproei en dus nie sy area kan inkort nie. Hy sal wel sy bes moet doen om met slegs 70% van sy normale besproeiingsbehoefte deur te kom.
  • Sorg dat u die water so doeltreffend as moontlik gebruik. Skakel alle lekkasies uit en vermy, waar moontlik, om gedurende die warmste deel van die dag te besproei.
  • Hergebruik veral grys water (uit baddens, opwasbakke en storte) vir tuingebruik.
  • Wees elke oomblik bedag op die werklike situasie. Leef en laat leef.

Ons het mekaar se algehele samewerking nodig om hierdie krisis deur te sien.
Onthou om elke dag te bid vir reën en dank die Vader wanneer Hy wel reën op jou plaas laat val. Dink ook aan die boere en ander watergebruikers in die res van ons land.

Tot volgende keer.




Lae-vloei Drupbesproeiing

Published by Hennie Schoeman in Praatjies · 31/8/2015 11:06:00
  1. Een van die baie interessante voorleggings tydens die afgelope SABI kongres het oor die gebruik van lae vloei drupbesproeiing gehandel. Dit is deur Gerhard Mostert, 'n grondkundige van Bethlehem (Vrystaat) aangebied.
  2. Dit is sekerlik elke besproeiingsboer se wens om 'n besproeiingstelsel te hê wat volledige beheer oor watervolumes, doeltreffendheid, kragverbruik, arbeid en kunsmistoediening kan bewerkstellig. As die stelsel daarby ook gelyktydig oor 'n wye reeks van verskillende gronde gebruik kan word en dit bekostigbaar is, sal dit voorwaar 'n wenner wees!
  3. Lae-vloei drupbesproeiing bied moontlik so 'n opsie vir die besproeier. Hierdie stelsels gebruik druppers met 'n lewering van 1 liter per uur, of minder. Die doel is om tussen 2,5 en 3,5 kubieke meter, of dan tussen 0,25 en 0,35 millimeter water per hektaar per uur toe te dien.
  4. Die lae-vloei druppers het dus 'n baie lae leweringstempo. Dit het die voordeel dat die grootste gedeelte van die gelewerde water deur die gewas opgeneem word terwyl die besproeiing aan die gang is.
  5. In so 'n geval is maklik toeganklike vry water vir die grootste gedeelte van die dag binne die wortelsone van die gewas beskikbaar.
  6. Die kans dat water- en bemesting verliese as gevolg van insyfering dieper as die wortelsone sal plaasvind, word baie verklein.
  7. Die lae lewering maak dit moontlik dat gronde van verskillende teksture, strukture en dieptes gelyktydig en vir dieselfde staantye besproei kan word.
  8. Groot areas kan gelyktydig, met dieselfde pompe as wat vir ander stelsels benodig sou word, besproei word.
  9. Die groottes van die moederlyne vanaf die pompstasie of beheerpunt na die besproeiingsblokke kan baie beperk word, aangesien baie minder water as gewoonlik per besproeiingsblok gepomp word.
  10. Die hele idee is dat daar een sentrale beheerpunt sal wees waarvandaan alle water en bemesting toegedien word deur 'n aantal klein-deursnit pype of moederlyne, wat elkeen water na 'n besproeiingsblok voer. Omdat die vloei per blok so laag is, kan daar van dunner moederlyne gebruik gemaak word. 'n Vinnige berekening toon dat 'n 40 mm lyn 'n blok van 1 hektaar, 'n 50 mm pyp 'n blok van 2 ha, 'n 65 mm pyp 'n blok van 4 ha en 'n 80 mm pyp 'n blok van 7 ha kan bedien.
  11. In praktyk het elke blok sy eie beheerkraan en invoerpunte vir bemesting. Filtrering van water kan óf sentraal óf per moederlyn gedoen word. Alle moederlyne word deur dieselfde pompstasie bedien. Alle blokke word gelyktydig besproei, wat beteken dat daar nie meer die oop- en toedraai van krane per blok ter sprake is nie.
  12. Wanneer besproei word, word 'n berekening van die water wat die gewasse die vorige dag gebruik het, gedoen en dit word dan op die betrokke dag weer aangevul. Dit word gedoen deur die stelsel so lank as wat nodig is, aangeskakel te hou. Hierdeur word 'n baie buigbare situasie geskep, wat reën en hittegolwe bykans onmiddellik in ag neem. Omdat die hele plaas gelyktydig besproei word, word risiko's aansienlik verminder en beter doeltreffendheid word bewerkstellig.
  13. Met so 'n gesentraliseerde stelsel is dit natuurlik baie makliker om baie van die prosesse te outomatiseer. Hiervoor kan rekenaars en selfoon toepassings baie handig ingespan word. Sensors in die land kan ook gebruik word om enige raaiwerk oor grondvog toestande en klimaat uit te skakel.
  14. Skakel gerus met u beproeiingsraadgewer of plaaslike koöperasie om meer oor hierdie stelsels uit te vind.
Ek antwoord graag op enige navrae per e-pos by hennie@landuse.co.za, of per selfoon by 082 800 0894. Besoek ook gerus ons webwerf by www.landuse.co.za

Groetnis tot 'n volgende keer!




SABI Kongres 2015

Published by Hennie Schoeman in Praatjies · 24/8/2015 12:05:00
Tags: SABIKongres2015
  1. Ek het die wonderlike voorreg gehad om gedurende die week van 3 Augustus 2015 die kongres van die Suid-Afrikaanse Besproeiingsinstituut (SABI) by te woon. Die tema van die kongres was om die veertigste jaar van die instituut onder die vaandel van "Besproeiingsontwikkeling: Gehalte deur Innovasie" te vier.
  2. Nie minder nie as sewe Tegniese Sessies, wat oor 3 dae gestrek het, is aangebied!
  3. Die tegniese sessies het onderskeidelik die volgende hooftemas behels:
    1. Innovasie: Ons kyk terug en ons kyk vorentoe.
    2. Optimale en alternatiewe energie oplossings.
    3. Oplossings vir landskap en grasveld besproeiing.
    4. Besproeiing onder skadunet en in kweekhuise.
    5. Beplanning en bestuur van infrastruktuur deur die gebruik van innoverende tegnieke.
    6. Pyptegnologie vir volhoubare toepassings.
    7. Hulpbronbestuur deur navorsing.
  4. Dit is onmoontlik om die detail van elke voorlegging binne die bestek van hierdie praatjie te hanteer, maar ek lig graag 'n paar aspekte uit wat vir my nuwe insigte geskep het.
  5. Baie klem is op die doeltreffende benutting van besproeiingswater gelê. Aspekte soos die verbetering van vloedbesproeiingstelsels, evaluering van sprinkel en spilpuntstelsels in die land, optimale besproeiingsontwerp met behulp van rekenaarprogramme, beheer van drupstelsels, watermeting en die optimale bestuur van filterstelsels is in diepte uitgepluis.
  6. 'n Baie interessante aanbieding is gemaak oor die gebruik van baie lae lewering drupstelsels, met gepaardgaande groot blokke wat elkeen sy eie moederlyn het en wat van een sentrale punt af bestuur kan word. Hierdie benadering kan ten gevolg hê dat 'n boer sy hele plaas elke dag, en selfs 'n paar keer per dag kan besproei. Hierdeur kan gesorg word dat die grondvog altyd op optimale vlakke is. Die effek van byvoorbeeld reënval of hittegolwe kan op 'n daaglikse basis bestuur word sonder om die gewasse aan onnodige strestoestande bloot te stel.
  7. Die optimalisering van energieverbruik het ook lewendige besprekings uitgelok. Met die hoë koste van elektrisiteit tans en die verwagte inflasie in energiekoste, is byvoorbeeld aangetoon dat die tans aanvaarbare wrywingsverliese wat tydens ontwerpe toegelaat word, bes moontlik gans te hoog is. Navorsing toon dat die huidige toegelate 1,5% ontwerpnorm vir optimale pypgroottes te hoog is. Die norm behoort eintlik iets tussen 0,4% en 0,6% te wees!
  8. Ons was bevoorreg om deur die ambassadeur van Israel in Suid-Afrika 'n voorskou te kry van ontwikkelings wat tans in Israel aan die gang is. Dit was verblydend om te verneem dat daar uiters goeie samewerking tussen die besproeiingsbedrywe van Suid-Afrika en dié van Israel bestaan.
  9. Nog 'n baie insiggewende voorlegging het gehandel met die metodes wat die Departement van Water en Sanitasie tans gebruik om die effek van verouderde infrastruktuur in groter waterskemas te ondersoek. Die doel hiervan is om te identifiseer, te meet en dan die opknapping of vervanging van verouderde strukture soos kanale te implementeer. In hierdie metodes speel afstandswaarneming, soos satellietbeelde en onbemande klein vliegtuie (hommeltuie) 'n baie groot rol.
  10. Dit sou lekker wees om vir drie dae lank oor al die interessanthede van die kongres te kon praat, maar ons tyd is te beperk! Daar is natuurlik die voor-die-hand liggende oplossing vir elke boer wat deur hierdie inligting geprikkel is: Sluit by SABI aan! By hierdie instituut kan u skouers skuur met die beste kundiges in die land (en selfs in die wêreld!). Daar word op 'n baie gereelde basis 'n SABI Tydskrif gepubliseer, wat vol waardevolle inligting vir die besproeiingsboer is. Opleidingskursusse, wat wissel van inleidende bewusmaking van aspekte rakende besproeiing tot gevorderde besproeiingsontwerp word gereeld en bekostigbaar aan lede gebied. Gereelde vergaderings van takke word gehou, waartydens uiters waardevolle inligting uitgeruil word.
  11. Om meer oor SABI uit te vind, kan u gerus gaan loer na www.sabi.co.za, of 'n e-pos stuur aan info@sabi.co.za. As u sommer lus is vir gesels of verdere navrae het, skakel (021) 850 8220.

Ek antwoord graag op enige navrae per e-pos by hennie@landuse.co.za, of per selfoon by 082 800 0894. Besoek ook gerus ons webwerf by www.landuse.co.za

Groetnis tot 'n volgende keer!




Satellietbeelde

Published by Hennie Schoeman in Praatjies · 23/7/2015 12:25:00
SATELLIETBEELDE EN BESPROEIING
  1. 'n Paar van ons ouer mense onthou sekerlik die "biep..biep..biep" van Sputnik 1 waarna ons met groot opgewondenheid in die laat vyftiger jare van die vorige eeu oor 'n krapperige radio-uitsending geluister het! Of ons groot wonder of die hondjie Laika die eerste ruimtesending sou oorleef.
  2. Sedert die maanlanding in 1969 en Niel Armstrong se gevleuelde woorde het dinge inderdaad met rasse skrede gevorder in die wêreld van ruimtetuie en satelliete. Binne 'n kort bestek van net oor die vyftig jaar het ons gevorder tot by die Google Earth van vandag, wat elke boer in staat stel om na redelik onlangse, hoë-resolusie beelde van sy eie plaas te kan kyk. Wat 'n handige werktuig is dit nie, wat 'n mens sommer op jou slimfoon kan installeer en voel asof jy werklik in die 21ste eeu lewe!
  3. Hoewel die Google-beelde mooi en skerp is, en 'n mens selfs oppervlaktes daarop kan meet of afstande bepaal, of selfs 'n goeie aanduiding van hoogteverskille kan sien, bly dit maar net prentjies en kan 'n mens nie werklik wetenskaplike inligting hieruit put nie.
  4. Sedert ongeveer 1970 het NASA en ander ruimte-agentskappe begin om satelliete te lanseer wat allerlei sensors aan boord dra. Vir die doeleindes van my gesprek beperk ek my vandag slegs tot daardie sensors wat 'n groot gedeelte van die elektromagnetiese spektrum dek.
  5. Sonder om in te veel wetenskap betrokke te raak, moet ek tog meld dat, wanneer 'n mens na veral besproeiingsboerdery kyk, dit belangrik is om nie net na die sigbare lig-spektrum (rooi, groen en blou) te kyk nie maar ook na die onsigbare spektrale bande wat strek vanaf sub-infrarooi tot verby ultra-violet, asook die spektra wat termiese uitstraling aandui.
  6. In hierdie opsig is een van die nuttigste satellietsendings die reeks wat  NASA onder die LANDSAT-benaming lanseer en instandhou. Hierdie reeks, wat by LANDSAT 1 begin het en nou al by LANDSAT 8 trek, is veral belangrik omdat dit met die son gesinchroniseer is. Dit beteken dat bykans elke deel van die aardbol op elke plek, elke 16 dae en op dieselfde tyd van die dag waargeneem word.
  7. Die nuutste LANDSAT 8 beelde het 'n resolusie van 30 meter by 30 meter, en kan verskerp word tot 15 meter by 15 meter. Hoewel dit nie skerp genoeg is om detail prentjies mee te maak nie, is daar sowat 11 monsterpunte per hektaar beskikbaar om allerlei metings en berekeninge mee te kan maak. Oppervlaktes kan redelik maklik tot 1 desimale punt van 'n hektaar bepaal word.
  8. Ons gebruik fisiese prosesse soos fotosintese om afleidings vanuit die spektrale bande te maak. Dit is byvoorbeeld bekend dat fotosintese rooi lig absorbeer en infrarooi lig uitstraal. Hierdie verskil tussen rooi en infrarooi word bereken en geklassifiseer. Hoe groter die verskil is, hoe geiler is die groei. Hoe geiler die groei, hoe groter is die waarskynlikheid dat die betrokke land besproei word – veral as dit in die droë seisoen ontleed word.
  9. Deur al die blokkies wat hoë fotosintese toon, bymekaar te tel, kan die oppervlakte onder besproeiing akkuraat bepaal word!
  10. Sekere spektrale bande help ons ook om die potensiële evapotranspirasie te bepaal. As ons weet watter gewasse op daardie stadium besproei word en watter besproeiingstelsel gebruik word, kan ons hierdie inligting gebruik om die besproeiingsbehoefte mee te bepaal.
  11. Dit is selfs moontlik om 'n voetspoor van gewasse met behulp van die spektrale ontledings te bepaal. Hoewel hierdie tegnieke heelwat kalibrasie verg, is hierdie voetspore reeds vir 'n hele reeks gewasse bepaal. Daar kan dus met die satellietbeelde bepaal word watter gewasse besproei word. Dit geld selfs vir droëland verbouing. Oesskattings kan ook hiermee gemaak word.
  12. Ons werk tans aan 'n stelsel om die werklike watergebruike in besproeiingskemas met behulp van afstandswaarneming (satellietbeelde) te kan bepaal. Die resultate sover lyk baie belowend!
  13. Daar is natuurlik heelwat ander gegewens wat uit die spektrale ontledings verkry kan word. Dit is byvoorbeeld baie maklik om verstopte besproeiingspuite te identifiseer. Ook lande waar die groei as gevolg van swak besproeiingsuniformiteit of swakker gronde beïnvloed word, is duidelik sigbaar.
  14. Die gebruik van satellietbeelde (ook genoem afstandswaarneming), tesame met die inligting wat uit die moderne onbemande vliegtuigies beskikbaar raak, skep nuwe, bekostigbare inligting wat vir die moderne boer van onskatbare waarde kan wees.
 
Ek antwoord graag op enige verdere navrae per e-pos by hennie@landuse.co.za, of per selfoon by 082 800 0894. Besoek ook gerus ons webwerf by www.landuse.co.za
 
Groetnis tot 'n volgende keer!



Grondwater

Published by Hennie Schoeman in Praatjies · 13/7/2015 21:18:00
GRONDWATER
1. Grondwater, wat gewoonlik met behulp van boorgate ontgin word, is 'n uiters belangrike waterbron in Suid-Afrika. Dit is tans nog relatief onontgin. Slegs sowat 2 000 miljoen kubieke meter uit 'n potensiële 5 500 miljoen kubieke meter (36%) word tans benut. Daarenteen is sowat 98% van oppervlaktewater reeds toegewys.

2. Die Nasionale Ontwikkelingsplan plaas 'n hoë premie op landbou-ontwikkeling in die toekoms. Volgens hierdie plan moet die oppervlakte onder besproeiing in Suid-Afrika met soveel as 30% groei teen die jaar 2030. Die Nasionale Waterhulpbron Strategie 2 voorsien 'n toename van selfs 50% in besproeide oppervlakte.

3. Uitgesluit die meer doeltreffende gebruik van water, wat ons voorheen reeds bespreek het, asook 'n mate van hergebruik van water, is grondwater by verre die grootste potensiële bron van water vir die voorsiende groei in besproeiing.

4. Met bostaande in gedagte, ontstaan die vraag nou hoe die besproeiingsboer op plaasvlak kan bepaal wat sy grondwater potensiaal is.

5. Dit is eerstens nodig om goed te verstaan waar grondwater vandaan kom. Die hoofdrywer is reënval – nie noodwendig die reënval op my eie plaas nie, maar reënval wat die waterdraer, of akwifer, waarin die boorgat geboor is, aanvul. Nie alle reën wat op die grond val, loop af nie. 'n Gedeelte daarvan sypel in die grond in om grondwater te vorm. Grondwater kom in krake en oop spasies in grond, sand en rots voor. Dit word geberg in, en beweeg stadig deur lae van grond, sand of rots, wat waterdraers vorm. 'n Waterdraer bestaan tipies uit gruis, sand, sandsteen of gebrokkelde rots, soos kalksteen. Hierdie lae is deurlatend en verbind groot ruimtes ondergrond, wat daartoe lei dat water daarin geberg word en stadig daardeur beweeg.

6. Die kuns lê natuurlik daarin om behoorlike waterdraers met 'n ontginbare en volhoubare waterbron daarin te vind. 'n Belangrike eerste stap is om die nasionale grondwaterkaarte te bestudeer. Hierdie kaarte, soos opgestel deur Vegter, is by die Departement van Water en Sanitasie beskikbaar. Dit kan 'n eerste orde aanduiding wees voordat daar met verdere detail ondersoeke begin word.

7. Ek gaan my nie uitlaat oor die kuns van waterwys met allerlei metodes soos mikstokke, drade, waterbottels, ensovoorts nie. My enigste opmerking is dat ek geen skatryk waterwyser ken nie.

8. Ek sou beslis aanbeveel dat u van 'n kundige geohidroloog gebruikmaak om die grondwaterpotensiaal op u plaas te bepaal. Nie net sal so 'n kundige 'n aanduiding kan gee van waar u grondwater kan verwag nie, maar sal ook 'n goeie idee van die diepte en volhoubare lewering van die beplande boorgat kan gee. Al betaal u dalk redelik baie vir hierdie kundigheid, is dit na my mening glad te duur om nie daarvan gebruik te maak nie!

9. Onthou net ten laaste dat enige nuwe gebruik van boorgatwater (uitgesluit boorgate vir huisgebruik en veesuiping) aan die verkryging van 'n magtiging onderworpe is, soos voorheen bespreek.

Ek antwoord graag op enige verdere navrae per e-pos by hennie@landuse.co.za, of per selfoon by 082 800 0894. Besoek ook gerus ons webwerf by www.landuse.co.za

Groetnis tot 'n volgende keer!




Huur en koop van water

Published by Hennie Schoeman in Praatjies · 11/5/2015 18:19:00
HUUR EN KOOP VAN WATER
'n Vraag wat ek dikwels kry, is of water gekoop, verkoop, gehuur of verhuur kan word? Die kort antwoord hierop is "JA". Die langer antwoord lê verskuil in artikel 25 van die Nasionale Waterwet:

Artikel 25(1) het te doen met die tydelike oorplasing van 'n watergebruiksreg en spesifiek met water wat vir besproeiing gebruik word. Daardie artikel laat toe dat u die besproeiingswater op 'n tydelike basis vir ander doeleindes as besproeiing op u eie eiendom kan gebruik. Dit mag gebruike soos nywerheidsgebruik behels, en ek hanteer hierdie aspek nie nou verder nie.

Artikel 25(1) laat verder toe dat besproeiingswater op 'n tydelike basis op 'n ander eiendom in dieselfde omgewing, vir besproeiing gebruik kan word. Dit skep die geleentheid om besproeiingswater te kan verhuur. Aangesien dit op 'n tydelike basis geskied, beteken dit dat die water weer na die oorspronklike eiendom terugval nadat die huurkontrak verstryk het.

Voordat u 'n verhuringskontrak aangaan, moet u asseblief met die Departement van Water en Sanitasie of u raadgewer skakel om te bepaal wat die departement in u situasie as "tydelik" sal aanvaar. U kan dus sorg dat die huurkontrak se termyn dienooreenkomstig opgestel word. U behoort ook ooreen te kom wie die tersaaklike waterheffings gaan betaal. As die verhuurder dit gaan betaal, is dit normaalweg nie nodig om die registrasie te verander nie, maar as die huurder die heffings gaan betaal, behoort die registrasie aangepas te word.

Dit is natuurlik belangrik dat die water wat verhuur of gehuur word, 'n behoorlik gemagtigde watergebruik is. As daar nog nie 'n lisensie daarvoor bestaan nie, moet dit as 'n bestaande wettige watergebruik verklaar wees deur die Departement. Raadpleeg die Departement of u raadgewer in hierdie verband.

Artikel 25(2) het te doen met die permanente oordrag van water tussen gebruikers en kan dus gebruik word in die geval waar water gekoop of verkoop word. Hier is die gebruiksreg wat oorgedra word nie beperk tot besproeiingswater nie, maar sluit alle gemagtigde watergebruike in (teoreties selfs gemagtigde opgaar van water!). Daar is 'n paar vereistes in hierdie proses.

Eerstens kan 'n permanente oordrag slegs geskied deur middel van die verkryging van 'n watergebruikslisensie, soos uitgespel in artikel 41 van die Nasionale Waterwet. Die koper moet dus aansoek om 'n lisensie doen. Daardie aansoek word ondersteun deur die verkoper se bereidwilligheid om sy gebruiksreg op te sê in ondersteuning van die koper se aansoek.

Tweedens moet die water wat oorgedra word, uit dieselfde waterhulpbron deur die koper geneem word.

Laastens raak die prysgawe of opsegging van die gebruiksreg deur die verkoper eers van krag wanneer die betrokke lisensie uitgereik is. As die lisensie-aansoek dus om een of ander rede nie suksesvol is nie, raak die aanspraak op die gebruik daarvan nie weg nie, maar dit val terug na die voornemende verkoper.

Soos u kan hoor, is die prosesse betrokke by die verkoop of koop van water redelik ingewikkeld en is dit onderhewig aan die verkryging van 'n lisensie.

Ten einde baie moeite en verdriet te spaar, beveel ek sterk aan dat u van kundige hulp gebruik sal maak as u water wil koop of verkoop.

Tot 'n volgende keer!




Ek wil 'n dam bou of herstel

Published by Hennie Schoeman in Praatjies · 30/4/2015 11:27:00
WAT MOET EK DOEN AS EK 'N NUWE DAM WIL BOU, OF 'N BESTAANDE DAM WIL HERSTEL?
Volgens die Nasionale Waterwet moet 'n magtiging verkry word alvorens daar met die bou van enige nuwe dam begin kan word.
Vir 'n nuwe dam behels dit normaalweg een van twee moontlikhede:
  1. Die dam word toegelaat onder 'n algemene magtiging. In sommige gebiede van ons land word die bou van damme tot 'n maksimum van 50 000 kubieke meter toegelaat. Vir meer inligting hieromtrent moet u asseblief kundige advies inwin. Dit kan by u naaste kantoor van Waterwese bekom word (besonderhede by www.dwa.gov.za/contactRegions.aspx), of u kan 'n bevoegde raadgewer nader. Indien u wel hiervoor kwalifiseer, is die enigste vereiste dat die nuwe dam by die Departement van Water en Sanitasie geregistreer word.
  2. Indien die algemene magtiging nie in u gebied geld nie, of as die dam groter is as wat die algemene vergunning toelaat, moet u aansoek om 'n lisensie doen vir die bou daarvan.

As 'n bestaande dam gebreek het, of as dit sodanig toegeslik het dat die volume baie verklein het, moet u ook magtiging kry alvorens u met die herstelwerk begin. Dit behoort normaalweg nie 'n lisensie-aansoek te wees nie, maar kry asseblief skriftelike goedkeuring by Waterwese voordat u met die werk begin.

Indien dit nodig is om 'n lisensie te bekom, raak die proses beslis meer omvattend. Daar is 'n hele aantal sake wat in ag geneem moet word. Die belangrikste hiervan is om vooraf by die departement 'n aanduiding te kry of enige nuwe damme wel in u gebied oorweeg sal word. Daar is gebiede in ons land waar die oppervlakte-afloop reeds so onder stres is dat geen nuwe damme toegelaat sal word nie. Omdat die aansoek vir 'n lisensie 'n omvattende en duur proses is, sou dit beslis wys wees om u kans op sukses vooraf te bepaal.

'n Dam kan een of meer van die volgende watergebruike behels: (ek verwys na die betrokke subartikels van artikel 21 van die Nasionale Waterwet)
21(b)  die opgaar van water;
21(c) die belemmering of die wegkeer van die vloei van water in 'n waterloop;
21(i) die verandering van die bedding, walle, loop of kenmerke van 'n waterloop;
21(k) die gebruik van water vir ontspanningsdoeleindes.

Daarbenewens mag die dam ook aan die bepalings en voorwaardes wat in Hoofstuk 12 van die wet, wat handel oor die veiligheid van damme, onderhewig wees. Hierdie bepalings geld normaalweg as die dam 'n opgaarvermoë van meer as 50 000 kubieke meter EN 'n totale walhoogte van meer as 5 meter het.

'n Aansoek vir die bou van 'n dam word nie in isolasie deur Waterwese hanteer nie. Dit sal beslis nodig wees om 'n magtiging onder die Omgewingswetgewing te bekom. Gedurende hierdie proses sal daar ook insette en kommentaar deur geaffekteerde mense, soos u bure, tydens die openbare deelname prosesse verkry word.
Die lisensie-aansoek sal onderhewig wees aan al elf die aspekte wat in artikel 27: "Oorwegings vir uitreiking van algemene magtigings en lisensies" gemeld word. 'n Verslag wat al hierdie aspekte aanspreek en motiveer, moet die lisensie-aansoek vergesel.

Die tyd wat dit neem vanaf die inhandiging van die aansoek tot by die finale goedkeuring/afkeuring daarvan word deur interne beleid van Waterwese as 300 dae gestel. Hoe presies die prosesse werk, kan by die volgende skakel gesien word: www.dwa.gov.za/WAR/licenceprocess.aspx

Die hele proses van lisensie-aansoeke kan deesdae ook elektronies hanteer word onder die "Electronic Water Use Licence Application and Authorisation System" oftewel e-WULAAS. U moet op die stelsel registreer om dit te kan gebruik. Die betrokke skakel is: 164.151.129.107/ewulaasprod/

Lisensie-aansoeke vir die gebruik van water is gekompliseerd. Dit is beslis die moeite en geld werd om 'n bekwame kundige te nader om u hiermee by te staan.

Tot 'n volgende keer!




Hoe om besproeiingsdoeltreffendheid te verbeter

Published by Hennie Schoeman in Praatjies · 6/4/2015 12:26:00
HOE OM DIE DOELTREFFENDHEID VAN WATERGEBRUIK VIR BESPROEIING TE VERBETER
Verlede keer het ons gesels oor die geweldige implikasie wat die totale doeltreffendheid van die gebruik van besproeiingswater het, en watter groot, onontginde bron van water daarin verskuil is.
Wat kan ek op plaasvlak doen?
Die algemeen aanvaarde doeltreffendheid op plaasvlak lê tans tussen 60% vir sekere tipes vloedbesproeiing tot so hoog as 95% vir goedbestuurde drup- en ondergrondse stelsels.
  • Die eerste en belangrikste aspek is BESTUUR. Bloot deur die behoorlike bestuur van u bestaande stelsel kan u 'n groot verskil maak. Skakel alle pyp-lekke en lekkasies by u pompe uit. Maak swak leivore en bakke rondom gewasse hoog en sterk genoeg en sorg dat die water bly waar dit benodig word. Sorg dat u besproeiingstelsel teen die regte drukke funksioneer. Die beste metode sal altyd die voetspore van die boer in die land bly!
  • Skeduleer u besproeiingstoedienings met behulp van verdampingspanne, grondvogmeters en behoorlike waarneming van u gewasreaksies, sodat u net genoeg water per besproeiing toedien. Oorbesproeiing is 'n groot sondebok.
  • Verander u stelsel na 'n meer doeltreffende stelsel.
Wat kan ons aan aanvoerverliese doen?
U sal onthou dat ons opnames getoon het dat die verliese aan water voordat dit by die kant van die land uitkom, wissel tussen 15% en 50%. Hier lê die grootste potensiaal vir verbetering.
  • Die groot sondebok hier is die instandhouding en bedryf van kanaalstelsels. Kanale wat swak in stand gehou word, veroorsaak groot lekkasies. Sluise, meetwalle en ander strukture wat verstop raak deur alge, watergras en ander vreemde materiale wat in die kanale beland, veroorsaak dat die kanale oorloop en die water verlore gaan.
  • Daar moet 'n behoorlike balans gehandhaaf word tussen die water wat by die bek van die kanaal ingelaat word en die hoeveelheid water wat deur die gebruikers benodig word. Te veel inlaatwater lei daartoe dat die water verby die lande na die eindpunt van die kanale vloei en dus verlore is vir gebruik.
  • Balanseerdamme om die balans tussen inlaatwater en benodigde water kan handhaaf, help baie in die bedryf van die stelsel.
  • Waar moontlik, behoort oop kanaalsisteme met geslote pypsisteme vervang te word. Nie net word verliese hierdeur tot 'n minimum beperk nie, maar die pypstelsel se druk kan benut word om energiebehoeftes op die plaas te verlaag.
Waar moet die geld vandaan kom?
Onthou dat ek voorheen gemeld het dat dit tans sowat R 10,00 per kubieke meter water kos om nuwe damme te bou. Deur geld beskikbaar te stel om die doeltreffendheid van die gebruik van besproeiingswater op plaas- en skemavlak te verbeter, kan die Staat groot hoeveelhede water mobiliseer. Dit kan 'n geweldige potensiaal ontgin met velerlei gepaardgaande voordele.
Individuele boere, georganiseerde landbou en staatsdepartemente kan gerus hierop begin fokus om die probleem van die watertekorte wat in die nabye toekoms voorspel word, te trotseer. Dit is in nasionale belang en almal kan daarby baat om die druk op ons beperkte, maar strategies uiters belangrike waterhulpbronne te verlig.

Baie dankie en goeiedag.




Verbetering van doeltreffendheid

Published by Hennie Schoeman in Praatjies · 3/4/2015 14:55:00
VERBETERING VAN DIE DOELTREFFENDHEID VAN WATERGEBRUIK VIR BESPROEIING
Vandag wil ek graag kyk na wat behaal kan word as die doeltreffendheid van die gebruik van water vir besproeiing verhoog sou word.
Besproeiingstelselverliese
Ek het 'n ontleding van al die watergebruike vir besproeiing, soos dit vasgevang is in die WARMS-registrasie databasis van die Departement van Water en Sanitasie, gedoen. Nie net is daar na die geregistreerde volumes gekyk nie, maar ook na die verskillende besproeiingstelsels. Daar is natuurlik wesenlike verskille tussen die doeltreffendheid van verskillende besproeiingstelsels op die lande. Die algemeen aanvaarde waardes, soos ook in die WARM-stelsel ingebou, wissel tussen 60% vir sekere tipes vloedbesproeiing tot so hoog as 95% vir goedbestuurde drup- en ondergrondse stelsels.
Aanvoerverliese
Die doeltreffendheid van die stelsel op die land is egter nie die enigste doeltreffendheid wat ter sprake is as 'n mens na die totale doeltreffendheid van watergebruik kyk nie. Ek definieer doeltreffendheid vir doeleindes van hierdie gesprek as die hoeveelheid water wat uiteindelik deur die plant-wortelstelsel benut kan word, gedeel deur die hoeveelheid water wat uit die oorspronklike waterbron, soos 'n dam, losgelaat word vir gebruik.
'n Ontleding van 14 verskillende groot besproeiingskemas wat deur my firma onderneem is, het getoon dat die verliese aan water voordat dit by die kant van die land uitkom, wissel tussen 15% en 50%.
Totale verliese
Die totale doeltreffendheid van gebruik word uitgedruk as die produk van die besproeiingstelselverliese en die aanvoerverliese. Uit die ondersoeke wat ons gedoen het op die verskillende skemas, blyk dit dat die gemiddelde aanvoerdoeltreffendheid sowat 75% is. Die geweegde gemiddelde besproeiingstelseldoeltreffendheid is sowat 79%. Dit beteken dat die water teen 'n gemiddelde totale doeltreffendheid van sowat 59% gebruik word. Andersom gestel, beteken dit dat daar ongeveer 41% van die water onbenut of onbeheer verlore gaan.
Wat is die praktiese implikasie hiervan?
Dit is natuurlik prakties bykans onmoontlik om alle verliese uit te skakel. Wat egter wel moontlik is, is dat daar sekere doelwitte nagestreef kan word. Hierdie doelwitte is nie onhaalbaar nie en word reeds deur etlike skemas en besproeiers behaal. Sou ons streef na 'n aanvoer-doeltreffendheid van 85% en 'n besproeiingsdoeltreffendheid van 90%, beteken dit dat die totale doeltreffendheid styg na 76,5%, teenoor die huidige 59,3%. Ter wille van my argument, stel ek 'n totale doeltreffendheid van 75% as haalbare maatstaf.
Volgens die 75% maatstaf beloop die gemiddelde totale jaarlikse waterbesparing sowat 4 165 miljoen kubieke meter. Dit is gelykstaande aan die kapasiteit van effe minder (78%) as die kapasiteit van die Gariepdam (ons grootste dam), of sowat 22 Hartebeespoortdamme!!
Is dit ekonomies haalbaar?
Een van die mees onlangs voltooide groot damme is die De Hoopdam in die Steelpoortrivier. Hierdie dam het 'n kapasiteit van sowat 347,6 miljoen kubieke meter en het sowat R 3,4 miljard gekos om te bou. Dit beteken dat die koste van daardie dam sowat R 9,80 per kubieke meter water opgegaar, gekos het.
As ons hierdie koste as vertrekpunt gebruik, beteken dit dat daar sowat R 40,74 miljard beskikbaar gemaak sou kon word om die besparing van 4,165 miljard kubieke meter water te kon regverdig! Terloops, daardie 4,165 miljard kubieke meter is gelykstaande aan sowat 12 De Hoopdamme!
Wat sou ons met die ekstra water kon doen?
4,165 miljard kubieke meter per jaar is voldoende vir die besproeiing van 'n bykomstige sowat 520 000 hektaar. In die alternatief sou dit voldoende kon wees om genoegsaam water (teen 200 liter per kop per dag) vir sowat 57 miljoen mense!!
Die moontlike werklikheid
Natuurlik is al die voorafgenoemde syfers maar net 'n teoretiese oefening, maar selfs as die WARMS-databasis so veel as 75% onakkuraat is, bly die resultate steeds duiselingwekkend! Hierdie potensiële onbenutte en dormante bron van water behoort dringende aandag vanuit regeringskringe te kry. Georganiseerde landbou kan gerus hierop begin fokus om die probleem van watertekorte, wat in die nabye toekoms voorspel word, te probeer hanteer.

Tot 'n volgende keer.




Older posts
Back to content | Back to main menu